Posted in Uncategorized

Swangerskap se worry-nou-daaroor-lys

Foto: Pixabay
Foto: Pixabay

My kind sit op my blaas, sê ek byna halfuurliks voordat ek myself vir die hoeveelste keer uit die kantoor, partytjie of van die etenstafel af verskoon. Hy is nou eers 22 weke oud in my maag en hy vertrap my reeds. Hoe lyk die vooruitsig van die res van ons lewens saam?

Ek vermoed dit gaan maar ook so wees dat hy vir die afsienbare toekoms net soveel druk op my beursie gaan plaas soos hy tans op my blaas plaas. Die finansiële verknorsing het reeds begin: die uitgawes vir die meubels wat ek skielik in ʼn piepklein spaarkamer moet forseer waar die mannetjie in die nag kan skree, die onkostes vir die peperduur ginekoloog- en ander doktersafsprake en dan natuurlik ook die ekstra toiletpapier, pakke doeke en ander benodigdhede wat noodgedwonge met elke Checkers of Pick n Pay-special aangeskaf moet word.

Skoolfonds is die volgende belangrike item op die moet-eers-doen-oor-ʼn-paar-maande-maar-ons-moet-nou-al-daaroor-worry-lys wat miljoene der triljoene rande gaan beloop. Die koste van ʼn klein baba in die kleuterskool per jaar is omtrent dieselfde as ʼn klein motortjie of ʼn vakansie vir twee Bali toe. En dan moet jy nog sy eie melkies en doekies en boudsalfies saamstuur skool toe. Vaderland, miskien moet ek ʼn kleuterskool oop maak, dink ek elke keer as ek die internet deursoek vir ʼn skool wat minstens lyk of die kokkerotte nie daar oor my kind gaan loop nie.

My nou-al-worry-lys verleng daagliks. Van “gaan ek dit reg kry om te borsvoed”, “wat doen ek as ek terug gaan werk toe na vier maande en hy wil nie my tieties los nie” tot “wat as ek nie kan borsvoed nie en hy is allergies vir elke liewe soort blikmelk op die mark” en “wat as hy nie aan die 141 soorte tiete en bottels op die mark wil drink nie”. Verder kan ʼn mens ook dinge soos “wat as sy linkergroottoon op sy regtervoet groei” en “gaan hy eendag goeie maats hê wat hom nie aan porn en dwelms gaan blootstel nie” voeg by dié lys.

Nou kyk, ek het nooit geweet ʼn babatjie wat so groot is soos ʼn spaghetti squash kan soveel uitmergeling in die vroulike liggaam veroorsaak nie. Buiten die konstante trippies toilet toe, is my rug en steitjie ook af. Gebreek. Ek sukkel soos ʼn 88-jarige om van enige stoel of bed af te kom en my arme man moet sommige aande grootoog toekyk hoe ek met ʼn semi-dooie linkerbeen van die sitkamer af suiker kombuis toe.

So gepraat van suiker… buiten die badkamer is die kombuis die vertrek wat ek die tweede meeste besoek in die huis. Ek het al ‘n klein olifantjie se gewig aangesit sedert die aanvang van my swangerskap en ek bly honger. Mense sê ek gloei, maar dit is net van die vetterige kos wat ek dag in en dag uit eet wat om my kiewe sit. Van groente en vrugte is daar min sprake – ek is honger vir pasta, pizza, brood, peanut butter, Woolies se caramel swiss rolls en basies alles anders wat my en my kind die risiko van gestational diabetes laat loop. Gestational diabetes op die worry-lys: check!

Ek het een dag so baie suiker geëet, ek kon my hart sien klop deur my hemp. Ek moes ʼn Tinkie eet om te stabiliseer. Daarna het ek besluit ek moet dit rustiger vat met die suiker, want diabetes is ʼn regte, egte probleem. Ek Google toe, teen almal plus my dokter se goeie advies, een oggend 02:00 (terwyl my man salig langs my snork) al die goed wat verkeerd kan gaan as kinders diabetes in die baarmoeder ontwikkel.

Ek het die res van die nag trane van skuldgevoelens in my kussing gestort oor die blindheid, doofheid en ander defekte wat ek en my Tinkies vir my arme bloedjie veroorsaak het. Toe die son sy eerste strale deur die gordyne steek, spring (nee, kreun en steun met ʼn half-dooie linkerbeen) ek uit die bed en begin ek deur my splinternuwe kopie van What to expect when you’re expecting blaai. How to reverse diabetes, soek ek, maar niks. Useless bleddie boek, vererg ek myself en druk ʼn stuk toast met stroop in my mond.

Terwyl ek vir die derde keer daardie oggend op die toilet sit, wonder ek: Daar is mos nie so baie suiker in stroop nie, is daar?

Advertisements
Posted in Uncategorized

In Pretoria woon ‘n boelie: ‘n ware verhaal

Twee jong wit mans sit in ‘n kroeg in Pretoria. Dit is nog vroeg in die aand en die huis roep nog nie.

Oorkant hulle in die kroeg sit twee swart mans. Hulle drink hulle bier en geniet die Shakira-song wat een van die ander ouens pas op die Jukebox aangesit het.

Skielik stap ‘n groep groot, wit mans en ‘n paar vroue agterna die kroeg binne. “Sit af daai k-woord musiek!” bulder hy en loop die swart man, wat rustig aan sy bier teug, trompop.

Die volgende oomblik klap die wit man die swarte só hard met sy plathand teen sy wang dat hy van sy stoel af op die grond neerslaan. Shakira raak stil in die agtergrond.

Een van die wit ouens spring voor die swartes in en begin pleit. “Asseblief, los hulle net uit! Hulle het niks aan enigiemand gedoen nie!”

Toe begin die houe reën. Die een na die ander. Die wit ou se tand breek en sy voorkop bloei.

Die res van die groep en die kroegdame staan net kyk.

Toe die groep besef die swartes het te voet op die vlug geslaan, sit hulle hulle agterna en slaan hulle pap in ‘n veld nie ver van die kroeg af nie.

Die motorwag sê hy ken dié menere. Hy self het al deurgeloop. Die kroegeienaars wil nie betrokke raak nie.

Hulle staan ook net en kyk.

Iewers in Pretoria woon ‘n man wat weet wat hy gedoen het. Hy weet hy het onskuldige mense aangerand omdat hy ‘n volslae rassis is. Hy weet dat hy ‘n jong, wit man vir die res van sy lewe fisiek geskend het. Hy weet hy het hulle so hard geslaan dat hulle nie kan onthou hoe sy gesig lyk nie.

Iewers in Pretoria woon ‘n man met ‘n klein seuntjie binne-in hom, wat net soos sy pa en sy oupa sy vuiste vir mense lig omdat hy nooit geleer het wat respek en naasteliefde is nie.

Iewers in Pretoria woon ‘n boelie wat hiermee gaan weg kom, omdat almal daardie aand net gestaan en kyk het.

Posted in Movies

‘n Nobody se resensie van ‘Wonderlus’

Wonderlus (Facebook)
Wonderlus (Facebook)

Ek is gewoonlik die eerste een wat kla oor mense se flieketiket. Mense mag nie eers praat tydens die voorprente of met ʼn selfoonliggie die trappies soek as die ligte klaar af is nie, of my oë rol by die teaterdeur uit. Om nie eers te praat van die ritselende, oorverdowende, krakende sweets papiertjies nie. Ek meen, by all means, eet jou Whispers, jy het immers pas R430,00 daarvoor betaal, maar doen dit net sagter slash vinniger slash na die fliek.

Vanaand was ék egter die irriterende persoon in die heel voorste ry. (Ry A is mos voor – die ander stry met my en sê dit is agter. Duh, dis mos vóór as jy by die deur inkom, obviously.)

Vandat ek in die teater gaan sit het, het ek sommer kliphard verskeie emosies ervaar. Eerstens afwagting. Ek wag al weke om Wonderlus te sien en mens hoor net die mooiste goed van dié fliek. Leon van Nierop het dit nege sterre gegee uit tien. Nege! Ek het die fliek so opgebou in my kop dat ek bang was ek gaan teleurgesteld wees.

Presies die teenoorgestelde het gebeur. Die storielyn het my geboei van die eerste toneel af. Omdat ek lief is vir stories en omdat ek weet Johan Cronjé het al ʼn toekenning of wat gewen en gaan tien teen een nou aan huis met Leon van Nierop, het ek baie aandag aan die teks gegee. Dit is amper foutloos.

Wag, wat weet ek van “amper”? As ʼn wannabe-skrywer wat nie altyd weet hoe om die prentjies in my kop op die angswekkende, skoon, wit bladsy voor my te omskep in iets wat nie lyk asof ʼn laerskoolkind dit geskryf het nie, was die teks iets om werklik jaloers op te wees. Jis, ek wens ek het hierdie draaiboek geskryf!

Daar was soveel oomblikke wat ek nie my emosies kon beheer nie. Ek en my vier vriendinne, wat al almal strooimeisies op mekaar se troues was en wat ook al verskeie kere met die hangover uit ʼn nagmerrie wakker geword het ná ʼn wilde nag van chaos en dan probeer sin maak van die lewe wat so vinnig met ons gebeur, het die fliek skreeusnaaks gevind. Dalk partykeer op onvanpaste tye. It’s funny because it’s true, jy weet.

Ouer mense sal miskien sukkel om met dié fliek te vereenselwig, maar niemand kan die feit dat hierdie ʼn kwaliteitproduk is, ongeag jou fliekvoorkeure, ontken nie. Die fliek spreek tot ʼn generasie wat die samelewing se reëls van Afrikaner-wees en twentysomething-wees bevraagteken en uitdaag, terwyl ek daar sit met my mond oop oor hoe onvoorspelbaar, briljant en deurdag die storielyn, teks en dialoog is.

Die fliek speel nie chronologies af nie, maar dit het my nie soos met byvoorbeeld Vanilla Sky laat voel asof ek ʼn bietjie te dom is om by te hou nie (ek het daai fliek drie keer gekyk, en ek weet nog steeds nie wat gaan daar aan nie!). Ek weet ook niks van flieksmaak af nie, maar dit is so mooi geskiet en die landskap is beeldskoon. Ansu Visser se gesig is ook soos ʼn pop sʼn.

Dit was verfrissend om na ʼn fliek te kyk met karakters wat dit laat voel asof jy na jou eie lewe kyk en die akteurs se spel het my nie een keer laat cringe nie. Ek was al sewe keer ʼn strooimeisie en het al hordes troues bygewoon. Ek vermoed Johan Cronjé was ook al by ʼn paar troues betrokke – die egtheid van die tonele is net té uncanny vir iemand wat nog net ʼn troue of twee bygewoon het.

As jy iemand is wat hou van ʼn goeie fliek met binnegoed, moet jouself nie laat afskrik deur die feit dat dit Afrikaans is nie. Moenie wag vir Box Office nie. Moenie wag vir die DVD nie. Moenie by begin verby gaan nie en moenie R200 invorder nie. Gaan direk flieks toe, gaan gee eerder R200 uit en gaan beleef ʼn Afrikaanse fliek wat jou tussen die oë tref. As jy bang is vir eerlikheid oor die lewe en die liefde, gaan dié fliek jou skud.

Jy weet ‘n fliek is goed as die gehoor bly sit nadat die credits lankal begin rol het. Die enigste ander keer wat ek kan onthou dat dit gebeur het was met Black Swan, waarna ek twee keer gaan kyk het. Net soos ek gaan maak met Wonderlus.

Nouvanaand Films, die hele cast en Johan Cronjé, ek is ʼn fan! Dankie vir die kuns, die fok  alleen weet ons het dit nodig gehad.

Posted in Uncategorized

Die vet weet, want ek weet nie

Vandag sit ek hier voor my rekenaar in absolute verbystering oor iets wat die week op sosiale media gebeur het.

Uit die aard van my werk scroll ek my muis daagliks stukkend op soek na lekker stories. Ons nuusredakteur stuur vir my dié aan en omdat ek nie tyd het nie, gee ek dit vir ‘n ander joernalis.

Jenna Kutcher, ‘n vrou van Amerika, plaas dié foto van haarself op Instagram of wat ook al en skielik word sy gevra: “Hoe kan jy met jou vet gat só ‘n aantreklike man kry?” Julle – ek skryf nie vet gat omdat ek dit dink nie, lees eers nog.

Dadelik is ons op ons perdjies, want hoe kan enige iemand met oë in sy kop dink dat dié vrou vet is? Wragtag, ek het nie eers woorde nie, dink ek.

Die mense lees die rook uit die storie uit. Meeste mense wonder soos ek of ander mense dan nou heeltemal gek geword het, want dié vrou lyk vir my sexy, sy het lekker kurwes en ek sou nooit as sy van voor af aangestap gekom het gedink het: “Sjoe, kyk vir Dikkes” nie.

Vanoggend kry ek vir die eerste keer kans om mense se kommentaar daaroor te gaan lees. Ek het regtig gedink dat die samelewing my nie meer teleur kan stel as wat hulle reeds doen nie, en toe sien ek hierdie:

“So die artikel verwelkom oorgewigdheid. Mooi vrou, maar ons moet bietjie na ons gesondheid kyk ne. Gaan jy nog steeds jou lyf so lief hê as jy diabetes ontwikkel?” – Joe186

“Ou vetgat!!! Raak gesond, ek is moeg dat ons vir julle vet mense moet sê julle is mooi. Julle is nie, julle is vet.” – Piet102

“Dis jou eie skuld as jou vrou dik is, sleep haar saam gym toe! En steek die koekies en chocolates van haar af weg. Jaag haar om die huis. Doen iets.” – Jaco141

Ek wens ek het nie nodig gehad om hierdie mense se identiteite te beskerm deur nie hulle regte name hier neer te skryf nie. Hierdie mense is, volgens my, presies wat fout is met die samelewing van vandag.

Mense wat my goed ken weet ek was nog my hele lewe lank ‘n ou visgraatjie en ek moet regtig verskriklik baie eet en drink om gewig op te tel. My hele lewe lank is ek gespot oor hoe ek lyk. Sprinkaan. Kriek. Het jy anoreksie, vra mense sonder om te dink.

Intussen het ek ouer geword en presies 12kg opgetel sedert hoërskool – en nou sukkel ek in my kop met die etlike vetrolle wat ek die laaste paar jaar bymekaar gemaak het.

Elke oggend kraak ek myself af as ek in die spieël kyk. Leonie, kyk daai vetrolle om jou maag. Leonie, kyk daai los velle onder jou arm. Leonie, kyk jou dubbelken. Leonie, onthou om jou maag in te trek.

Hoe is die bordjies nie in 10 jaar se tyd in my lewe verhang nie. Tien jaar terug het mense gevra of ek nie ‘n broodjie wil eet nie, want ek “gaan deur my eie hol val”. Nou wil almal net hê ons moet gewig verloor.

Die goed wat ek in die oggende vir myself in die spieël sê, sal ek nooit, ooit vir iemand anders sê nie. Jenna Kutcher is in my oë glad nie vet nie, maar my eie vetrolletjie om my maag pla my so dat ek daarvan droom in die aande.

Dit stop vandag, hier en nou. Julle, ons almal lyk verskillend. Party is vet, party is maer, party is lank, ander is kort. Ek sal baie graag wil weet hoe lyk Joe186, Piet102 en Jaco141. Is julle volmaak? Wat is die definisie van volmaak? Wat ook al jy dink dit is, hou tog net jou flippen mening vir jouself.

Gaan uit, Vetgatte! Gaan uit, Maergatte! Gaan, en wees jouself. Eet daai broodjie, doen daai oefening, doen net wat jy wil. Jy sal nooit almal tevrede kan stel nie, behalwe jouself. Pasop tog net vir daai diabetes waaroor Joe186 so bekommerd is…

(Foto: Jenna Kutcher)

Posted in Uncategorized

Die onskatbare waarde van ʼn vriendin

Vandat ek kan onthou het ek nog altyd ʼn maatjie gehad – my sussie. Die agttien maande ouderdomsverskil tussen ons is net genoeg om ʼn baie dun lyn tussen beste vriende en beste vyande tussen ons te bewerkstellig.

So goed soos ons vir alles kon giggel tot ons boude slae gekry het, net so goed kon ons oor alles stry, wel, ook tot ons boude slae gekry het. My heel eerste vriendin.

Op laerskool was dit moeilik om die vriendin-storie te navigeer. Al het ek en my sussie baklei, het ek nooit gewonder of sy vir my lief was of my aanvaar nie. Met my maatjies was dit anders.

Ons het gereeld van die een beste maatjie na die ander verwissel en mekaar sommer net langs die pad “gedrop” as die een iets gedoen of gesê het waarvan die ander een nie gehou het nie. Ons kon selde op mekaar staatmaak om ʼn skinderstorie vir onsself te hou en lojaliteit was ʼn kommoditeit. Meisiekinders is erg gekompliseerd!

In standerd 4 beleef ek my eerste liefdesdriehoek. Ek en my maatjie hou van dieselfde seuntjie. Daar is sprake van hormone en early onset teenage angst. Ons baklei oor en weer en ons kleine wêreldjies stort in duie.

Eerste les in “ho’s before bro’s” net daar. (Ek sou dalk van hierdie insident in my lewe kon vergeet as dit nie was vir die boks vol glitterpenbriewe wat ek nou die dag ontdek het nie.)

Gelukkig beweeg ons aan en word groot (nie regtig volwasse nie, hoor) en die helfte van ons beland in dieselfde hoërskool. Miskien is dit net omdat ek kan onthou hoe min ek van die seuns gehou het wat saam met ons op skool was dat ek nie kan onthou dat ek met my vriendinne baklei het nie. Dit was op hoërskool waar ek vir die eerste keer regtig die waarde van ʼn vriendin ontdek het en my vriendinne my rykdom geword het.

Hoërskool was die langste vyf jaar van my lewe, maar sodra ek aan ʼn saai oomblik dink, is daar ʼn vriendin wat my herinneringe inkleur. Soos die dag toe ek in die huishoudkundeklas my sagopoeding verbrand het en almal met lepels om my pot saamgedrom het om dit te eet. Ek lag ook nou nog vir die grappies wat ons rondom die veldskoolvuur gemaak het oor ons “druppende roosterkoeke”. Een of twee het Eminem-liedjies vir die grap gerap terwyl die res van ons ons kleilatwonde gelek het.

Die Maasdorpers het niks op ons nie.

Toe gebeur die malle universiteitsjare. ʼn Paar vriendinne val uit die (partytjie)bus en ander klim weer op. Ek is een van die gelukkiges wat nou, dertien jaar nadat ons die skoolboeke vir die grootmenslewe verruil het, nog steeds vriendinne is met van die sagopoedingeters, die druppende roosterkoeke en die Eminem-rappers. Ek was selfs nou die dag ʼn bruidsmeisie op die troue van die liefdesdriehoek-vriendin.

Daar is iets te sê vir diegene wat by jou staan wanneer die partytjiebus stop en die grootmensbus skielik voor jou deur stop. Die vriendinne wat jou anker wanneer die fases van die lewe jou deurmekaar kom krap. Iemand vir wie jy kan sê: Ek het ʼn slegte dag. Koester daardie mense, want dit is ook hulle wat jou gaan dra as die bus jou eendag tref.

As ek my seëninge tel, tel ek my vriendinne twee keer.

Posted in Uncategorized

Lank lewe die liefde!

Nog ʼn Valentynsdag is weer verby en mense se uiteenlopende menings daaroor is altyd vir my interessant.

Sommige mense is mal daaroor om die uitdelers en ontvangers van sjokolade harte en teddiebeertjies te wees. Party verliefdes stuur bosse rooi rose oor kilometers heen, ander koop duur lekkergoed en parfuum en die meerderheid skryf lomperige liefdesbriewe op Facebook met bypassende foto’s.

Ander mense glo weer dit is net ʼn dag vir winkels om geld te maak uit rooi hartjies en sjokolade en allerhande overpriced kaggelkakkies waarop geen mens op enige ander dag soveel geld sou spandeer soos vandag nie. “Ons doen nie Valentynsdag nie,” sê ‘n vriendin.

Wat ook al jou mening is, kan ek jou een ding beslis verseker – ék het lanklaas die liefde so gesien seëvier soos vandag. Ek was ook altyd skepties, maar dié jaar was dit anders. Dalk het Zuma se dreigende bedanking iets met die reuk van liefde en hoop in die lug te doen, of dalk is ek hierdie jaar net in ʼn goeie bui, maar ek het die liefde hierdie jaar gevoel.

By die tandarts gee die vriendelike higiënis vir my ʼn paaseier aan. Vreemdeling-liefde. Met die intrapslag by die kantoor wag ʼn Sweetie Pie vir my op my lessenaar. Kollega-liefde. Nog ʼn kollega ruk ʼn pak Woolies-kolwyntjies uit en ʼn ander een ʼn pak heerlike koffie. Teetyd op Valentynsdag gaan verruklik wees. Dubbel-kollega-liefde.

Terug by die huis grom my maag van die honger. (Ek het teetyd laas ʼn paaseier, ʼn Sweetie Pie en twee kolwyntjies geëet.) “Ek het vir ons ʼn tafel bespreek by daai plek met die lekker calamari wat jy so like,” sê my bedagsame man. Op die tafel pryk ʼn geskenk in pragtige, kleurvolle papier toegedraai. Spesiaal net vir my (en so bietjie vir homself). Blykbaar doen ons Valentynsdag. Liefie-liefde.

Op pad na die restaurant bekyk ek die blommestalletjies langs die pad. Gewoonlik is hulle stil daardie tyd van die laatmiddag, maar vandag staan daar ʼn hele rits manne tou om ʼn bossie blomme vir hulle geliefdes by die huis te koop. “Natuurlik vanoggend vergeet en die hele dag kort-af Whatsapps gekry,” skerts ek en Liefie in die verbyry.

Meeste vroue wil dit nie erken nie, maar die meerderheid van ons hou van ʼn ou stroperige, romantiese geskenkie wat sê ‘ek het aan jou gedink’ al “doen julle nie Valentynsdag” nie. Volgens slim mense van Wallethub in Amerika wat ʼn studie gedoen het, dui ʼn peiling aan dat 53% van vroue sê hulle sal hul maat verlaat indien sy nie ʼn rooi-hartjie-kaggelkakkie van haar geliefde ontvang nie. Die goeie nuus is dat dit beteken 47% van vroue is tevrede met ʼn hartjielose Valentynsdag – ʼn goeie kollektiewe syfer vir vroue wat tevrede is oor iets, sou ek sê.

Die restaurant is volgepak met paartjies. Die restaurant het moeite gedoen met rooi kerse en kitcherige rooi vere en goeters op die tafel. Spesiale aanbiedinge vir twee persone wat deel. Roxette in die agtergrond. Verliefdes van alle ouderdomme sit rondom ons. Daar is nie ʼn kind in sig nie. Vrede heers, die wyn vloei en jy hoor net prawn-doppe kraak.

In die hoek van die vertrek vang ʼn deftige ouer vrou my oog. Haardos en bolip is ewe styf. Sy en die norserige man wat langs haar sit het albei ringe aan – lank getroud, besluit ek. Ek hou hulle oor my Appletiser dop. Hulle praat nie ʼn woord met mekaar nie. Die kelner vergeet om hulle voorgeregte te bring en hulle moet noodgedwonge begin eet aan die hoofgeregte wat hy voor hulle op die tafel neergeplak het. Bolip nog stywer.

Ek skinder natuurlik oor wat ek sien by Liefie. “Die twee lyk so gepynig, ook maar goed hulle het voorgereg oorgeslaan,” sê ek. Liefie dink ʼn rukkie na terwyl hy sy calamari tubes kou. “Miskien het hulle woorde net al opgeraak,” sê hy uiteindelik. “Ten minste bring hy haar nog steeds uit op Valentynsdag. Dit tel seker vir iets.”

Ek hoop hy onthou hierdie woorde eendag as ons oud is en ons geselsies dalk opraak. Ja, Valentynsdag is beslis ʼn geldmaakstorie, maar so is Paasfees en Kersfees en al die ander heerlike en spesiale dae wat ons vier. As jy hierdie jaar nie Valentynsdag gedoen het nie, oorweeg dit volgende jaar! Selfs ʼn nota op ʼn post-it kan ʼn huppel in jou stap sit wat nuwe betekenis gee aan “she got it all this morning”.

Vier die liefde, man! Lank lewe die liefde!

Posted in Uncategorized

Die groot vraag is: Wat eet ons vanaand?

Ek werk in ‘n nuuskantoor vol uitgesproke joernaliste en daar word elke dag ‘n legio van onderwerpe bespreek. Van Demi-Leigh se protea-uitrusting tot vermiste persone tot die ou wie se kop in die mikrogolfoond vasgesit het.

Die onderwerpe verskil elke dag soos wat die nuus verander, maar die een ding waaroor ons elke dag praat, sonder uitsondering – is kos.

Geen kossoort word ontsien nie. Kookkos. Melkkos. Babakos. Seekos. Enige iets wat lyk of jy dit kan kou en insluk, word op ‘n daaglikse basis bespreek. Maaltye word beplan, restaurant-uitstappies word geresenseer, bestanddele word ontleed en resepte word uitgeruil. Ons stuur foto’s van koeke en terte vir mekaar aan op Skype en droom saam van oorlaaide buffet-tafels en luukse bakkerye.

‘n Groot gedeelte van die oggend word toegewy aan wat ons die vorige aand of naweek geëet het, soms met ‘n totale uiteensetting van bestanddele én gaarmaakmetodes. Daarna word middagete die volgende onderwerp en natuurlik is die volgende stap dan om hardop te begin wonder wat jy gaan eet vir aandete.

Teen 15:00 is almal weer rasend. Dalene maak tee teen die hongerpyne en Janie pluk uiteindelik die ryskoekies waarvoor sy al 13:00 lus was uit haar kosblik en eet hulle versigtig op. Allerhande moontlikhede vir aandete word onder die loep gebring. Burger King. Pasta. Vetkoek. “Ek eet by my ma”.

Enige iemand wat langer as ses maande met iemand anders ‘n huis deel, weet die eerste vraag in die aande na werk met tuiskoms is meer kere eerder: “Wat eet ons vanaand?” as: “Hoe was jou dag?” Meeste aande is dit dan een van dié gedeelde resepte of resensies wat die res van die aand se kalorie-inname bepaal, afhangende van hoe lus iemand jou kon praat vir tuisgemaakte nachos of Piza e Vino se pasta special.

Selfs enkellopendes wonder al 16:00 wat hulle vir aandete gaan eet. “Partykeer beplan ek my maaltye ‘n week vooruit,” sê ‘n enkellopende vriendin onlangs toe ons vriendegroep ontmoet vir middagete en die gesprek oudergewoonte die rigting van aandete inslaan, “maar meestal koop ek take-aways of ek maak goed wat ek alles gelyktydig in die oond kan druk.”

Ons gesels vir nog ‘n halfuur oor wat ‘n mens alles gelyktydig in die oond kan druk. Dit laat ons gedagtes na Kersfees dwaal. “Wat doen julle vir Kersfees? Wat gaan julle eet?” vra iemand nuuskierig.

Wat gaan ons nié eet nie? vra ek. Ons is opgewonde. Spyskaarte word opgesê en denkbeeldige tafels kreun onder skaapboud, soetpatats, gebakte aartappels en twee verskillende soorte nagereg. Al die monde water en die slapies word afgetel. Iemand maak ‘n kalender oop op sy selfoon.

En dan, net voor iemand ‘n eier wil lê oor die oordaad waarmee daar soms aan maaltye beplan word, sê iemand in die hoek: “En dan gaan ons braai!”

Ons almal lag, want ons weet dit is waar. My ma sê nie verniet altyd “ons lyk so lekker, want ons eet so lekker” nie. ‘n Mens kan seker nie die ou wie se kop in die mikrogolfoond vasgesit het blameer nie – daar het seker iets lekker om te eet daar binne weggekruip.

Posted in Uncategorized

Die (oor)deler is net so goed soos die steler

Sy skuifel haar boude in die kerkbankie in. Heel voor, Bybel onder die arm. “Het jy gesien watse uitrusting het Suzette nou weer vanmôre aan?” vra sy vir haar man en wuif liggies in ‘n blonde vrou se rigting. Toe Suzette skielik op kyk en vir haar glimlag, kan sy nie anders as om skynheilig terug te glimlag nie.

Dominee begin preek. “Gemeente”, sê hy uit die hoogtes, “die Here sê jy mag nie oordeel nie!” Sy knik haar kop. Sy stem beslis saam as die Here so sê. Staan vir gesange en loer weer na Suzette se rok en besluit weer die nommertjie is beslis vier vingers te kort.

Sy kyk na haar man wat langs haar staan en sing dat die spoeg spat. Sy het al gesien hoe kyk hy skelmpies vir Suzette. Maar, oortuig sy haarself, hy is ‘n goeie Christen; hy ken elke woord van elke gesang. Dit laat haar beter voel wanneer sy dink aan sy affair. Hy sê dis nou verby en sy dink sy glo hom. As Christen is skei buite die kwessie, sy moet druk deur die seer en anderpad kyk. Sy het belowe. Nevermind wat hy ook belowe het. Hy het gesê hy sal verander.

Teetyd na die afloop van die kerkdiens word altyd afgerammel. Partykeer sommer heeltemal vermy. Sy kan net nie staan en luister hoe Suzette in haar sletterige rokkie vir haar vertel van die diereskuiling waar sy elke naweek vrywilligerswerk doen nie. Daarvoor het sy beslis nie krag nie.

Miskien moet sy loer wat op Facebook aangaan. “Bekende sangeres en filantroop raak weer verloof”. Sy maak die artikel oop. Die ink is nog skaars droog van haar vorige skeisaak, oordeel sy. Christene mag nie skei nie. Sy is bitter.

Iets aan die sangeres laat haar dink aan Suzette by die kerk. Jy is ‘n slet, tik sy in die kommentaarboks onder die artikel. Goeie Christene skei nie. Jy is geen rolmodel vir jou jong aanhangers nie. En jou wenkbroue lyk soos die hond se gat. Sy is Mara.

Sy voel nie sleg oor haar kommentaar nie. Die popster irriteer haar in elk geval lankal. Alewig in die nuus met die oordadige liefdadigheidswerk wat sy doen. As dit nou nie aandag soek is nie, dan weet sy nie. Mens gee mos sonder om ‘n ophef daarvan te maak.

Op pad huis toe maak sy haar motorruit vinnig toe toe die man bakhand langs haar verskyn. “Ek is so moeg vir bedelaars,” sê sy vir haar man en skud haar kop afkeurend. Sy sien die bedelaar sien die Bybel op die paneelbord. Die afguns in sy oë vang haar onkant.

Sy dink aan Dominee se preek. Jy mag nie oordeel nie. Sy stem nog steeds saam. Jy mag nie oordeel nie. Behalwe as jy dit stilletjies en geheimsinnig doen. Behalwe as jy tenagekom is. Behalwe as jy jaloers en bitter is. Behalwe as jy agter ‘n skerm en ‘n sleutelbord kan wegkruip. Behalwe as jou sonde erger is as my sonde.

Posted in Uncategorized

Familie is nie ʼn mielie wat jy plant nie

Ek gaan kuier nie sommer vir iemand wat siek is in die hospitaal nie. Slegs by uitsondering. Jy moet ook eintlik net na jy gekraam het eers vir my ʼn foto van jou baba aanstuur vir goedkeuring voor ek vir jou en die splinternuwe Xivoné in die kraamsaal kom kuier. (Wat is dit met mense en die name wat hulle deesdae vir hulle kinders gee? Maar dit is ʼn blog-inskrywing vir ʼn ander dag.) Ek haat hospitale. Dit gee my gevoelens wat ek nie kan beskryf nie, amper soos as die moordenaar in die fliek die meisie in die hangkas gaan betrap en jy wéét dis nou tickets met haar. Angs. Kieme. Dood.

En daar beland ék toe nou pens en pootjies binne-in die hospitaal! Surgical Unit, SG 36. Werner hou darem heelpad my hand vas en selfs na besoektyd verby is mag hy nog by my kuier. Hulle is nie so streng met besoektye in daai saal nie, want ons is nie kritiek nie, sê hulle. Daar is drie ander vrouens met wie ek die saal moet deel. Langs my lê ʼn bejaarde vrou, skuins oorkant lê ʼn baie praterige tannie en reg oorkant lê ʼn vrou wat klets met die vrou wat by haar sit dat die byle huil. Ek is nie lus vir sosialiseer nie en trek my gordyne toe.

Na ʼn halwe dag en ʼn volle nag begin ek eensaam raak en besluit om die wit gordyne oop te trek. Wel, Christina Skosana het besluit, maar ek begin onvermydelik met die vrou oorkant my gesels. Dis haar ma wat hier lê, sê sy. Hulle woon op Bethal, maar die dokters daar het hulle na Pretoria toe verwys, want in Bethal se hospitale “vrek jy”, sê sy. Sy bly maar in ʼn gastehuis naby die hospitaal, ses-honderd-en-vyftig-rand per nag. Dis dúúr, sê ek. “Ek kan nie ʼn prys op my ma se gesondheid plaas nie, so ek sit maar hier elke dag tot sy ontslaan word.”

Ek vra oor die bejaarde vrou langs my. Ek het nog nie familie by haar gesien nie, sê ek. “Nee, haar seun was gistermiddag vir so vyftien minute hier. ʼn Vreemde man was ook hier, dalk ʼn familievriend,” bespiegel Bethal, “maar hy het eintlik ook net ingeloer en gewaai.”

Shame, dink ek. (Ek dink dis net Suid-Afrikaners wat sê “shame”?). Die een se familie wil net nie huis toe gaan nie en die ander een sʼn kan net nie wag om te vlug nie. Die geselserige tannie oorkant my gesels soveel met die mense om haar, die verpleegsters inkluis, dat sy vergeet dat daar nie ʼn enkele persoon by haar kom kuier het nie. Miskien juis om te vergeet. Miskien is haar mense ver, wonder ek. Ek wil eerder nie vra nie, want ek sien as sy jou béét het, het sy jou beet, en my kop is eintlik nog dof van gisteraand se slaappil.

Terwyl Bethal met my gesels, kyk ek kort-kort na my selfoon. Die boodskappe van bekommernis en steun kom in vlae deur. “Sterkte” en “laat weet my” en “is jy okay?”. Vriende en familielede (Werner het ʼn groot, groot familie, maar dis ʼn blog-inskrywing vir ʼn ander dag!) wat wonder oor my welstand. Ek moes my selfoon vier keer herlaai binne twee dae soos wat my mense hulle oor my ontferm het. Selfs mense by wie ek nooit sou gaan kuier het nie, wou by my kom kuier!

My baas Whatsapp ook gereeld om te hoor wat sê die dokter en of ek hulp nodig het met iets. Toe ek by “Discharges” staan om papierwerk in te vul om ontslaan te word, hol my kollega-vriendin by die hospitaaldeure in met ʼn reuse bos pragtige pienk rose. “Ons wou nog vir jou blomme bring, toe is jy al ontslaan! Daar was nie eers tyd vir ‘n kaartjie nie, maar dis van ons almal af!” lag sy. Daar is niks wat my so troos en geliefd laat voel soos blomme nie. Dit het ek by my ma en oupa geërf.

Op pad huis toe gaan my gedagtes terug na die vrouens in my saal. Ek hoop Bethal se ma weet hoe geseënd sy is om ʼn dogter te hê wat so toegewyd is aan haar dat sy bereid is om vir ʼn onbeperkte tyd haar twee klein kindertjies by die huis agter te laat om vir twaalf ure elke dag langs haar ma se bed te waak. Ek hoop as die praterige tannie by die huis kom, haar mense vir haar wag, gereed om na al haar baie stories te luister, maar dat sy hulle ook ʼn kans sal gee om te praat en te luister na wat hulle te sê het. En ek hoop die mense wat die kort kuiertjie by hul gryse ou moeder so afgerammel het, onthou dit met Kersdag of verjaarsdae en sy is nie meer daar om haar kennis te deel en na die tyd soos ʼn blouwildebees in hulle ore voor die TV te snork nie.

Ja, ʼn mens is nie noodwendig altyd lus (of finansieel sterk genoeg) om elke niggie en nefie en tannie en oom se geleenthede by te woon nie, en ek glo ook nie jy hoef nie. Maar jy moet besef dat wanneer die pawpaw die fan strike, of die maagsere ontsteek, of die harte gee in of die babas word te vroeg gebore, is hulle die mense wat laer om jou trek. Dit is die mense wat ʼn kring om jou maak om seker te maak jy val, en staan op, met waardigheid. Dis die mense wat oor jou gaan skinder agter jou rug, maar wat jy drieuur in die oggend kan wakker bel as jy ʼn probleem het en jy kan met sekerheid weet kort voor lank snel die hele spul jou te hulp.

Dít is die kern, die stronk (stront?) van familie. Wat jy saai is nie noodwendig wat jy maai nie. Die ding met familie is, al sien ons mekaar min en ons stry onderlangs, sal ons altyd vir mekaar opstaan en mekaar bystaan wanneer tye moeilik raak. Of jy probeer of nie, met familie kry jy altyd meer uit as wat jy insit, en dis baie lucky, is dit nie?

My ma sê altyd, familie is nie ʼn mielie wat jy plant nie, maar dit beteken egter nie jy hoef nie die plant water te gee en te koester nie. As iemand se vlerk af is, is almal daar om te help spalk. Al het ek gister gesê jou kombuis is kitsch.

Daar is natuurlik ook die familie wat nie bloed is nie. Die vriende wat wil sop bring, die vriende wat wil kom kyk of jy regtig okay is soos jy sê, die kollegas wat bel en blomme aandra. Dít is jou kosbare tribe. Nie die mense wat altyd daar is net wanneer dit goed gaan nie, maar dié wat daar is wanneer dit nie doen nie.

Dít is familie.

Nota: Ek joke net oor die babas, hulle is almal oulik, maar ek gaan kuier nog steeds net vir sekeres.

Vir Nolan Charles Inggs geb. 18.01.2017

Posted in Uncategorized

As jou moeg ook moeg is vir 2016

Meeste dae sukkel ek om te cope. Okay, seker darem nie meeste dae nie, maar my kollega Esté sê nie verniet (en baie diplomaties) dat ek “ʼn flair vir die dramatiese” het nie.

Dwarsdeur die jaar is daar slegte goed wat gebeur soos karre wat breek, honde wat uitgesit moet word en geld wat nie dadelik in jou bankrekening wys nie, maar ons kom nou op daardie punt van die jaar wanneer dit die klein strooihalmpies is wat die kameel se rug breek.

Ek is doodseker dat meeste mense in die wêreld hulle hande sal opsteek in ʼn peiling van wie nou regtig moeg is vir 2016. Blykbaar is dit ook al wetenskaplik bewys dat die werkersklas teen hierdie tyd van die jaar voel of hulle die penne wat hulle rondstoot in hulle oë kan druk uit pure uitputting en frustrasie. Hierdie tyd van die jaar verander die atmosfeer in die land én in my binneste. Dit gebeur min of meer in dieselfde tyd wanneer winkelsentrums prematuur my einde-van-die-jaar-angs aanwakker deur reeds in Oktober te begin “Jingle Bells” oor die luidsprekers basuin.

Sodra die eerste “daar is nog net 5 weke oor voor Kersfees” boodskappe begin deurkom, kan ʼn mens sommer sien hoe jou medemens daagliks bleker raak om die kiewe. Vanoggend het ʼn joernalis-kollega laat weet sy is laat, want sy moes omdraai om haar skootrekenaar te gaan haal wat sy by die huis vergeet het. Praat van oormoeg oorlog toe gaan sonder ʼn wapen!

As jy kyk na wat ons alles hierdie jaar moes deurmaak, is dit nie vir my vreemd dat die mensdom moeg is nie. Behalwe dat ons vir die meerderheid van die jaar saam met die Amerikaners ʼn pynlike geboorte moes skenk aan die oranjeste president in die geskiedenis, moes ons ook saam met Europa en Brittanje deur die Brexit-debakel swoeg. Ons moes selfs dié jaar deur die Olimpiese Spele sit en kyk hoe China in elk geval al die medaljes wen. Selfs van ons groot helde soos Leonard Cohen, David Bowie en Alan Rickman het die tydelike met die ewige verwissel.

Hier op eie bodem het dit ook nie voor die wind gegaan nie, maar as ek dink aan alles wat ons Suid-Afrikaners moes deurmaak is dit eintlik soos déjà vu. Ons moes (nog steeds) toekyk hoe ons universiteite afgebrand word. Ons krieketkaptein is (alweer) uitgevang vir knoeiery en Gauteng spoel (alweer) weg. Ons renosters is ook (alweer) minder, profete spuit hulle volgelinge (nog steeds) met insekdoder en ons is (nog steeds) in rasgeskille betrokke. En die Springbokke het (alweer) verloor, teen Italië nogal, kan jy nou meer?

Al dink ʼn mens nie so nie, glo ek die gebeure om jou affekteer jou, of jy nou besluit het om die SABC te boikot of nie, want behalwe vir die nuusgebeure moet ʼn mens nog kop bo water hou in jou persoonlike lewe ook. As jy jouself weer kom kry, het jou kar gebreek, jou hond moes uitgesit word en jou geld wys nie in jou bankrekening nie.

My vriendin het dit alles onlangs oorgekom, sommer so drie in ʼn ry. Nou die dag laat weet sy Vodacom het uit die bloute vir haar 20G se selfoondata verniet gegee, en ons almal weet om gratis data te kry is amper soos om die lotto te wen! En toe besef ek net weer, al gaan dit sleg en ons arms en bene voel so swaar soos lood, high five die lewe ons tog wanneer ons besig is om ander planne te maak.

2016 was ook met tye ons vriend wat vir ons omgegee het. Daar was verlowings, troues, babas en Lady Gaga se nuwe album. Daar was die nuwe Harry Potter-boek en Pokemon Go! Mense het depressie en kanker oorwin, ander mense het 1000’e kilometers op fietse afgelê om geld in te samel vir behoeftiges. As ek begin opsoek wat alles reg gegaan het, is dit amper net soveel soos wat verkeerd gegaan het.

En soos ʼn vriend nou die dag vir my sê toe ek my klaagliedere op sy Whatsapp besing: die lewe is morsig en partykeer doen jy net die beste wat jy kan, want niemand het vir jou ʼn handboek gegee nie. Ek dink aan hierdie woorde elke keer wat ek oorweldig raak en my vyf emosionele minute beleef voor ek weer skouer aan die wiel sit!

Mag almal van ons onthou om elke dag net ons beste te doen en ons seëninge en high fives te tel vir die res van 2016 en as jy hier lees en jy gaan uiteindelik met vakansie, hoop ek jy rus net so hard, lank en aanhoudend soos ek!

Hierdie skrywe word opgedra aan Clover. Jy was ʼn cool hond.